2010 News

Voorskou - Boishaai vs Gim

Wed, 28 Jul 2010 16:10:00 +0200

Dit is weer sulke tyd van die jaar. Die Suidelike Paarl is in blou en wit getooi en die Noordekant in geel, rooi en groen. Die Interskole koors loop weer hoog en van heinde en verre kom daar Old Boys en ouers om die grootste Interskole in die wêreld te kom aanskou en mee te maak - Boishaai en Gim!, twee name wat sinoniem is met skolerugby in Suid-Afrika. Vanjaar is dit weer 'n FNB Classic Clash.

Die 94ste Interskole word hierdie jaar gehou en selfs regdeur die twee Wêreld Oorloë is daar nie afgewyk van die program nie! Selfs nie eers Hitler kon Interskole ontspoor nie!

Gim se rekord sover is indrukwekkend. Hulle het 16 gespeel waarvan slegs twee aan die verloorkant was. Vroeg in die seisoen het hulle naelskraaps teen Waterkloof verloor en op die Wildeklawer toernooi het hulle vir Grey College skrik gemaak in die eerste helfte voordat Grey uiteindelik 23-12 gewen het. Dit is daar waar hierdie Gim span se reputasie begin het en met nuwe oë na hulle gekyk is.

Terug in die WP het Gim alle teenstand weggevee en hulle kritici laat regop sit met twee reuse oorwinnings oor Wynberg (101-0) en Boland Landbou (76-13). Hulle twee beste wedstryde was egter sekerlik teen Paul Roos Gimnasium (30-27) en Bishops (34-32) waar hulle 'n reuse terugveg poging van Paul Roos moes hokslaan en van agter af terug gekom het teen Bishops.

Gim het hierdie jaar drie WP Cravenweek spelers opgelewer in senter Kobus van Wyk, agsteman Christiaan Smit en haker, Jandré Conradie. Die gevaarmanne is egter flank Carlo Theron en senter Christopher Bosch. Beide van hulle speel tans kookwater rugby en het daai x-faktor wat dalk net die verskil tussen die twee spanne kan wees. As Boishaai hierdie twee kan hokslaan is die stryd halfpad gewonne.

Boishaai se seisoen het afgeskop by 'n rugbyfees op Sutherland en het op 'n hoë noot begin. Hulle het hulle eerste drie wedstryde almal met 50 punte of meer gewen en groot dinge is voorspel. Hulle vorm het hierna bietjie afgeneem, maar die wenne het steeds bly kom.

Hulle het egter hulle eerste wind gesluk met 'n onverwagse verloor teen Bishops met 'n enkele punt. Op Wildeklawer het hulle teen verwagting in 'n baie sterk Affies span geklop. Dinge het weer 'n opwaarste kurwe begin toon todat hulle hul vasgeloop het op Brugstraat teen 'n baie goeie Grey College. Nog 'n verloor daarna teen Paul Roos het die Boishaai manne se ondersteuners so bietjie laat bekommerd raak oor hul span se vorm. Die feit van die saak is egter dat Boishaai tot op hede 20 wedstryde gespeel het en net drie verloor het. Hulle handhaaf steeds 'n 85% wenpersentasie en dit is 'n duidelike teken van 'n top span. Na die lang vakansie het die spelers so stadig maar seker die roes afgskud en met die laaste 35 minute se rugby voor Interskole het hulle gewys waartoe hulle in staat is.

Boishaai het vanjaar vyf WP Cravenweek spelers opgelewer in haker Stephan Coetzee, flank Beyers de Villiers, vasskop Nicolaas van Dyk, losskakel Gavin Hauptfleisch en vleuel Devon Williams. Nog 'n speler, Lionel Abrahams was oorspronklik opgeneem in die WP span, maar moes ontrek agv 'n besering. Sy plek is toe deur Williams ingeneem. Coetzee was dan ook die WP Cravenweek kaptein. Die groot faktore in die Boishaai span is die akurate skopvoet van losskakel Hauptfleisch, sowel as die vurigheid van Coetzee en die werkverrigting van De Villiers. Gimnasium sal hulle foute moet beperk en die twee vuurvreters van Boishaai kan tem indien hulle die sjampanje proppe wil laat klap.

Om 'n voorspelling te waag is redelik nutteloos. Hierdie jaar is sekerlik een van die mees onvoorspelbares nog in die laaste tyd. Altwee spanne speel tans goeie rugby alhoewel hulle twee baie verskillende style het. Gim se vertonings teen dieselfde spanne lyk beter as Boishaai s'n, maar soos elke rugby liefhebber weet, is dit glad nie 'n maatstaf vir vorm nie. Interskole wedstryde is soos toetsrugby. Die ou cliché geld hier nog steeds. Die span wat druk die beste kan hanteer en die meeste koelkop kan bly staan die beste kans om te wen.

Sterkte aan altwee spanne en mag skolerugby seëvier!

Spanne:

HJS Paarl: 15 Jean Nel, 14 Leon le Roux, 13 Heinrich Boje, 12 Liam Jardine, 11 Devan Williams, 10 Gavin Hauptfleisch (onder-kaptein), 9 Louis Nel, 8 André Pieters, 7 Beyers de Villiers, 6 Jaycee Jooste, 5 Ryno vd Merwe, 4 PJ Clift, 3 Nicolaas van Dyk, 2 Stephan Coetzee (kaptein), 1 Justin Ackerman.
Plaasvervangers: 16 Du Toit Visser, 17 Ignus Nagel, 18 Johan Small, 19 Jan Hendrik Smuts, 20 Johan Cilliers, 21 Pieter Stofberg, 22 Wilton Bothma.

Paarl Gimnasium: 15 Jacques Botha, 14 Erik van der Merwe, 13 Christopher Bosch, 12 Kobus van Wyk, 11 Conrad Loubser, 10 Lance Ruthford, 9 Willie Viljoen (kaptein), 8 Christiaan Smit, 7 Ruan Mouton (onder-kaptein), 6 Carlo Theron, 5 Niel Claassen, 4 Stefan Willemse, 3 Mynhardt Kitshoff, 2 Jandré Conradie, 1 Du Toit Genis.
Plaasvervangers: 16 Wihan du Toit, 17 Mauritz Walters, 18 Jaco Jordaan, 19 Gideon Morris, 20 Johan van Zyl, 21 Hp Momsen, 22 Luqmaan Ismail.

Datum: 31 Julie 2010
Afskop: 16.00
Venue: Faurestraat Stadion,  Paarl
Weervoorspelling: Gedeeltelik bewolk, hoog 20°C en 'n ligte noordwester van 10 km/h .
Skeidsregter: Matt Kemp (WP Skeidsregtersvereeniging)

Deur BHP